Gebed vir 2010
Here, Almagtige, oneindige Skepper, Voleinder,
‘n jaar is vir U net ‘n oogwink,
maar vir ons is dit 365 dae lank — ‘n lang pad.
Here, vir ons is elke jaar volgepak met goed en kwaad.
U is Here van elke uur en dag en jaar.
Maar ons is vasgevange slawe van die tyd
wat so vinnig verbyvlieg.
Here, en tog bring elke jaar ons nader aan U.
Mense word jaar vir jaar ouer,
maar aan u kinders gee U die krag van die jeug.
‘n Jaar lê agter ons, vir altyd verby.
Plek-plek loop die pad reguit deur die vlakte,
ander kere met kronkelpaaie oor die steiltes,
vol slaggate, pap bande, verpaste treine,
verspeelde kanse.
Here, oor die geleenthede wat
onbenut verbygegaan het,
sou ek wanhopig kon raak,
as dit nie was dat vergifnis u gewoonte is nie.
Here, elke dag is u genade vars en nuut,
sedert Noag se reënboog,
en u goedheid is elke more splinternuut
sedert Jesus Christus.
Here, as U die hare van my kop getel het,
het U sekerlik ook my dae getel, die minute en sekondes
daarvan — alles hou U in die palm van u hand.
Here, ek vra U vir gesondheid in die jaar wat voorlê,
vir genoeg kos vir elke dag.
Maar veral bid ek om ‘n honger na u Woord, na U self.
Here my God, daar is geen twyfel dat hierdie jaar weer
‘n jaar vol van u vars genade sal wees nie.
Amen.
‘n Gebed uit Ghana.
Uit God seën Afrika, Ewald van Rensburg, bladsy 175.
